SAMJ IZINDABA

Obituary

Cobus van Graan

Jacobus (Cobus) Carolus van Graan is op 10 November 1941 op Swartruggens in Noord-Wes-provinsie gebore. Hy voltooi sy skoolloopbaan op Swartruggens, en doen daarna vir twee jaar diensplig in die Suid-Afrikaanse Lugmag. Daarna studeer hy BA liggaamlike opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria (UP), met die doel om onderwyser te word. Hy voltooi die kursus – gee egter nooit onderwys nie – en werk daarna saam met Fanus Rautenbach by die SAUK vir een jaar.

Cobus tree op 2 Januarie 1965 in die huwelik met Stienie Vermeulen – Cobus se skool-liefde op Swartruggens. Stienie was 'n teatersuster en na hul huwelik begin Cobus belangstel in 'n mediese rigting. Stienie onderneem om te werk terwyl Cobus studeer. 

Hy bekwaam hom by UP as geneesheer en doen sy hospitaaljaar by Klerksdorp-hospitaal. Daarna tree hy in privaat praktyk op Wolmaranstad vir een jaar, en verhuis vervolgens na Sasolburg waar hy in 1978 ’n privaat praktyk begin.

Cobus en Stienie het saam in die spreekkamer gewerk en mekaar baie goed aangevul. Stienie het gesorg dat Cobus altyd betyds was vir sy afsprake in die spreekkamer en in die hospitaal-teater, waar hy dikwels die plaaslike chirurge geassisteer het. Cobus en Stienie het graag gekampeer, wêreldwyd getoer, en na Mauritius en die Seychelle gegaan.

Cobus was baie geliefd by sy pasiënte en het net sy beste vir hulle gegee.

Cobus was verslae toe sy geliefde Stienie skielik op 4 Julie 2009 oorlede is. Hy kon hierdie verlies net nie verwerk nie en sy familie beweer dat hy hom daarna eintlik dood getreur het. Hy het voortgegaan met sy praktyk, maar is skielik op 8 Julie 2011 in sy spreekkamer oorlede. Hy was 70 jaar oud.

Cobus word oorleef deur sy twee kinders, Juandre en Ghrizelle.

Eugene Marais






Article Views

Abstract views: 1009
Full text views: 1974

Comments on this article

*Read our policy for posting comments here